Lees-saadjies beloof goeie oes
Suid-Afrika beleef ‘n leesgeletterdheidskrisis!
Ten spyte van ‘n slegte prognose, is daar hoop vir die jeug van die Weskus en Badisa is besig om baanbrekerswerk in die veld van leesgeletterheid te doen.
Die storievertellers het Noordhoek Primêr besoek.
Leesgeletterdheidskrisis
Meer as 80% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders kan nie met begrip lees nie.
Dít is een van die kommerwekkende bevindings wat die 2030-Leespaneel in Februarie 2024 in ‘n verslag bekend gemaak het.
Dié paneel bestaan uit 18 gesiene Suid-Afrikaners wat jaarliks byeenkom om die vordering te hersien wat gemaak is om leesbegrip onder Suid-Afrikaanse kinders te verbeter. Die paneel se visie is dat alle tienjarige kinders teen 2030 met begrip sal kan lees.
Ongelukkig is daar baie uitdagagings en verbetering vorder teen ‘n slakkepas. As daar nie dringend ingryping plaasvind nie, sal dit na raming 80 jaar neem vir 95% van alle graad 4-leerders om ‘n aanvaarbare standaard van lees met begrip te bereik.
Terugslae
Alhoewel die Wes-Kaap die provinsie in Suid-Afrika is wat die hoogste leesgeletterheidstelling in die jongste verslag van die Vordering in internasionale leesgeletterdheidstudie behaal het, is daar kommer oor die enorme leesterugslag in skole weens onder andere die negatiewe impak van die onlangse COVID 19-pandemie op die onderwysstelsel.
Badisa Weskus se Little Seeds-leesprogram het die plaaslike koerant gehaal.
Die Wes-Kaapse regering het sedertdien leesstrategie geïmplementeer om prestasie in lees oor alle grade heen te versterk.
Die leesstrategie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement wat ‘n paar jaar terug van stapel gestuur is, behels ‘n omvattende benadering wat noodsaak dat alle rolspelers, soos die regering, nie-regeringsorganisasies sonder winsbejag, die sakesektor en gemeenskappe saamwerk om leesbegrip in die provinsie te verbeter.
Skoolverlaters
Badisa, is die die grootste maatskaplike ontwikkelingorganisasie in Suid-Afrika en Badisa Weskus is ‘n plaaslike gesin- en kinderbeskermingsorgansie wat die enorme behoefte raakgesien het om leesgeletterheid in die Saldanhabaai- en Bergrivier munisipale gebiede onder grondslagfase-leerders te verbeter.
Heidi de Jager, ‘n maatskaplike werker by Badisa Weskus is baie opgewonde oor die Little Seeds-leesprogram wat vanjaar in die Weskus bekend gestel is.
Badisa se Little Seeds-leesprogram is ‘n uitvloeisel van die reeds gevestigde Little Seeds-Vroeë Kinderontwikkelingprogram.
Heidi sê ‘n gebrek aan leesgeletterheid het verreikende, negatiewe gevolge op kinders waaraan mense gewoonlik nie dink nie.
‘n Kind wat teen graad 4 nie met begrip kan lees nie, gaan ‘n leeragterstand in sy latere skooljare ervaar. Hierdie kinders staan ‘n groot kans om herhaaldelik te druip en voltooi uiteindelik nie hulle skoolloopbane nie.
“Enige gemeente, organisasie of groep vrywilligers kan hierdie leesprogram aanneem en daarmee ‘n groot verskil in die kinders in hul gemeenskap se lewens maak. Dit lê ‘n sterk fondasie vir hulle toekoms,” verduidelik De Jager.
Eerste saad gesaai
Little Seeds-leesgroepe bevorder lees met ‘n prettige, kreatiewe en interaktiewe benadering. Die program bied opleiding aan vrywilligers en help hulle om leesgroepe te aktiveer.
Badisa Weskus se eerste Little Seeds-leesgroepe het goeie saad in Noodhoek, Velddrif n vrugbare grond gesaai gedurende die eerste deel van 2024.
Daar is ook ander leesgroepe in Piketberg en binnekort in Langebaan.
“Ons is in ‘n oorsigrol vir ses maande, daarna gee ons die leesprogram oor aan die groep mense wat dit aanbied. Dit behoort aan die mense, die gemeenskap,” sê De Jager, wat ook die bestuurder van die Little Seeds-leesprogram aan die Weskus is.
Op 23 Mei het die storievertellers en onderwysers wat by die leesprogram in Velddrif betrokke is, met groot opgewondheid by Noordhoek Primêr hulle eerste vergadering gehou om ‘n suksesvolle kwartaal te vier.
Die terugvoering was dat leerders baie uitsien na die lees-sessies, hoë orde-vrae vra na aanleiding van die stories en dat hulle woordeskat reeds aansienlik uitgebrei het.
Noordhoek Primêr se skoolhoof, Mervyn Ruiter is baie tevrede met die uitkoms en het gevra dat die leesprogram voortgesit word. Binnekort gaan die lesers die kinders vermaak met prettige kostuums en pophuise om die stories verder in te kleur.
Indien jy belangstel om jou eie Little Seeds-leesgroep in jou woongebied te begin, skakel gerus Heidi de Jager by 022 7131723 of stuur vir haar ‘n e-pos na mw2@badisawk.org.za
Saamgestel deur Trish Goosen, skakelbeampte by Badisa Weskus